1 maar nou lag hulle vir my, hulle wat minder as ek is,
2 wie se vaders ek verag het en hulle nie gelyk geag het aan die honde (wat oud geword het) van my troppe vee nie.
3 Ja, die krag van hulle hande, watter nut sou dit vir my wees?
4 Hulle het hul krag volkome verloor.
5 Hulle is gedwing deur die allernoodsaaklikste, soos ’n dief wat van sy voete afgevee word,
6 vlugtend om te bly in die kranse van die valleie, grotte van die aarde, in skeure,
7 in rotsagtige plekke en onder bosse.
8 Die kinders van dwase sal omvergewerp word saam met die kinders van die bose; hulle sal laer afgebring word as die aarde
9 en nou is ek die voorwerp van hulle spottery, ja, ek het vir hulle ’n spotwoord geword.
10 Hulle verag my, vlug ver van my af en laat nie na om in my gesig te spoeg nie
11 omdat hulle begin het om in my gesig te lag en my te verneder; hulle het ook hulle teuels in my mond gesit.
12 Hulle staan op teen my regterhand, hulle het my gepootjie; hulle het my verwar deur die verdraaidheid van hulle lewenswyse.
13 Hulle verwoes my paaie sonder rede, hulle is verheug oor wat oor my gekom het; hulle sal geen helper hê nie.
14 Hulle sal ’n groot vernietiging ly; hulle sal gebreek word deur die tornado,
15 want hulle het angs oor my gebring, my paaie agtervolg soos die wind en my hulp het weggegaan soos ’n wolk.
16 Nou is my lewe moeg; die dae van ellende het my beetgepak.
17 In die nag is my gebeente in pyn en my liggaam het geen krag nie.
18 Ek het my kleed aangetrek en my omvou met my bo-kleed,
19 maar hulle het my in die modder gegooi en ek het geword soos stof en as.
20 Ek roep uit na U en U antwoord my nie; ek staan op en U neem my nie in ag nie.
21 U het my behandel soos ’n vyand teen U, met U sterk hand my teruggehou.
22 U lig my op na die wind, U laat my daarop ry en dan beproef U my en maak my ellendig
23 en tog weet ek dat U my sal terugbring vanaf die dood na die bymekaarkomplek van alles wat lewe,
24 maar Hy sal nie Sy hand teen my uitsteek nie en wanneer ek na Hom uitroep, sal Hy my red.
25 Ek het in die dag gehuil vir die armes; my lewe het getreur vir die vaderloses,
26 maar toe ek uitgekyk het vir die goeie, het boosheid gekom en toe ek gewag het vir lig, het duisternis gekom.
27 My binneste is rondgeskud en het nie gerus nie; dae van ellende het oor my gekom.
28 Ek het treurend geloop sonder om gegrief te wees, ek het opgestaan en gehuil in die vergadering.
29 Ek het ’n broer geword vir die jakkalse en ’n vriend vir die volstruise.
30 My vel het gekrimp om my en my gebeente is gebrand asof met hitte.
31 My harp verander in roubeklag en my lied na die stem van hulle wat huil.