1 Samuel 1 DB

1 Daar was eenkeer ’n man met die naam Elkana. Hy het in Ramatajim in die Efraimsberge gebly. Sy pa se naam was Jerogam; sy oupa was Elihu en sy oupagrootjie was Tohu. Hulle was van Suf se familie wat van Efrata af gekom het.

2 Elkana het twee vroue gehad. Die een met wie hy eerste getroud is se naam was Hanna. Die ander vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie.

3 Elkana het gereeld een keer ’n jaar met sy vroue en kinders na die tempel in Silo gegaan om voor die magtige Here te kniel en vir Hom te offer. Eli en sy twee seuns, Hofni en Pinehas, was die Here se priesters in Silo.

4 Elke keer as Elkana ’n dier geoffer het, het hy dele van die gaar vleis vir Peninna en al haar seuns en dogters gegee,

5 maar vir Hanna het hy ’n spesiale deel gegee, want hy was vir haar die liefste, al het die Here nie vir haar kinders gegee nie.

6 Dan het Peninna, wat nie van Hanna gehou het nie, haar gespot oor die Here nie vir haar kinders gee nie. Die gespot het Hanna verskriklik ontstel,

7 want dit het elke jaar gebeur wanneer sy na die tempel van die Here toe gegaan het. Peninna het haar só gespot dat sy op ’n dag begin huil het en nie wou eet nie.

8 Elkana sê toe vir haar: “Hoekom huil jy? En hoekom eet jy nie? Waaroor is jy so omgekrap? Is ek nie vir jou beter as tien kinders nie?”

9 Die priester Eli het gewoonlik op ’n stoel gesit by die deurkosyn van die tempel. Toe die familie klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan.

10 Sy was sielsongelukkig. Sy het tot die Here gebid en terwyl sy vreeslik huil,

11 het sy ’n belofte gemaak. Sy het gesê: Magtige Here,ek is U nederige diensmeisie.As U regtig my moeilike omstandighede raaksienen my sal onthou en my nie vergeet nieen vir my ’n seunskind gee,sal ek hom vir sy lewe lank aan U, Here, teruggee.Sy hare sal nooit geskeer word nie.

12 Terwyl sy so aanhoudend voor die altaar bid, het Eli haar mond dopgehou.

13 Omdat Hanna in haar hart met die Here gepraat het en net haar lippe geroer het sonder dat haar stem gehoor kon word, het Eli gedink sy is dronk.

14 Hy sê toe vir haar: “Wanneer gaan jy ophou met jou gedrink? Los die drank!”

15 “U maak ’n fout, Meneer,” antwoord Hanna. “Ek het nie wyn of enige sterk drank gedrink nie. Ek is ’n baie ongelukkige vrou en ek het maar net my hart voor die Here uitgepraat.

16 Moet asseblief nie dink dat ek, ’n nederige mens, sommer ’n nikswerd vrou is nie. Dit is omdat ek bekommerd en ontsteld is dat ek so lank gebid het.”

17 Eli sê toe vir haar: “Mag dit met jou goed gaan, en mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.”

18 Nederig het Hanna hom geantwoord: “Dankie dat u vir my goed is.” Sy het na haar mense toe teruggegaan en geëet. Sy het nie meer so ongelukkig gelyk nie.

19 Vroeg die volgende môre het Elkana en sy familie in die tempel voor die Here op hulle knieë gegaan en daarna teruggegaan na hulle huis in Rama.Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink.

20 Binne drie maande het Hanna ’n baba verwag. Toe die seuntjie gebore is, het sy hom Samuel genoem, “want ek het die Here gevra om hom vir my te gee,” het sy gesê.

Samuel word aan die Here teruggegee

21 Toe Elkana die volgende jaar met sy familie Silo toe gaan om die jaar se offer vir die Here te bring en om ’n gelofte wat hy afgelê het, na te kom,

22 het Hanna nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wanneer die kind nie meer aan my drink nie, sal ek hom vat en hom vir die Here gaan gee. Dan sal hy vir altyd daar bly.”

23 Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy goeddink, en mag die Here jou help.” Hanna het by die huis gebly en haar kind versorg totdat hy nie meer aan haar gedrink het nie.

24 Net nadat sy die kind gespeen het, toe hy nog baie klein was, het Hanna hom saamgevat na die tempel van die Here in Silo. Hulle het ook ’n drie jaar oue bulkalf, omtrent twintig kilogram meel en ’n groot kruik vol wyn saamgevat.

25 Nadat hulle die bulkalf geslag het, het hulle die kind na Eli toe gevat.

26 “Verskoon my, Meneer,” het Hanna gesê, “sowaar as wat u leef, ek is die vrou wat hier by u tot die Here gestaan en bid het.

27 Dis vir hierdie kind dat ek gebid het, en die Here het vir my gegee wat ek vir Hom gevra het.

28 Nou gee ek hom terug aan die Here. Solank hy lewe, is hy die Here s’n.” Samuel het toe daar by die altaar op sy knieë gaan staan.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31