1 Samuel 10 DB

1 Toe vat Samuel ’n kruik met olyfolie en gooi dit op Saul se kop uit. Hy omhels hom en sê: “Die Here salf jou as die leier van sy eie volk.”

2 Verder sê hy: “Wanneer jy nou van my af weggaan, sal jy twee mans teëkom by Selsag, naby die graf van Ragel in die Benjaminstreek. Hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies waarna jy soek, is gekry. Jou pa dink nie meer oor hulle nie; hy is bekommerd oor julle twee en wonder wat hy moet doen om sy seun terug te kry.’

3 “As jy van daar af verder gaan en jy kom by die eikeboom van Tabor, sal jy drie mans teëkom. Hulle is op pad na die plek van God by Bet-El. Een dra drie boklammers, die ander een drie ringbrode en die laaste een ’n kruik wyn.

4 Hulle sal jou groet en vir jou twee brode gee wat jy by hulle sal vat.

5 “Daarna sal jy by Gibea-Elohim kom, waar die Filistyne se wagte is. As jy naby die dorp kom, sal jy ’n groep profete kry wat bo van die offerplek af kom met harpe, tamboeryne, fluite en liere. Hulle sal in profetiese ekstase wees.

6 Die Gees van die Here sal in jou werk sodat jy ’n ander mens sal word en saam met hulle in profetiese ekstase sal wees.

7 “Wanneer hierdie tekens gebeur wat ek vir jou gee, doen wat jy moet doen, want God help jou.

8 Gaan dan af Gilgal toe. Ek sal later by jou aansluit om brandoffers en offers vir die gesamentlike ete te bring. Jy moet sewe dae wag totdat ek daar aankom en vir jou sê wat jy verder moet doen.”

9 Die oomblik toe Saul omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God klaar sy hart verander. Al die dinge wat Samuel gesê het sal gebeur, het werklik nog dieselfde dag gebeur.

10 Hy kom by Gibea aan, en jou waarlik, daar is die groep profete! Die Gees van God werk toe só in hom dat hy saam met hulle gaan en net soos hulle in profetiese ekstase raak.

11 Almal wat hom jare al geken het, kon hulle oë skaars glo toe hy so saam met die profete is en net soos hulle maak. “Wat het met Kis se seun gebeur?” vra hulle vir mekaar. “Hoort Saul dan by die profete?”

12 Iemand daar naby merk toe op: “En wie is nogal hulle leier?” Dit is waar die spreekwoord vandaan kom wat sê: “Hoort Saul dan by die profete?”

13 Toe die profetiese ekstase verby was, het Saul na die offerplek toe gegaan.

14 Saul se oom het vir hom en die werker gevra: “Waar was julle al die tyd?” “Die donkies gesoek,” antwoord hy, “en toe ons sien ons kry hulle nie, het ons na Samuel toe gegaan.”

15 “Sê vir my, wat sê Samuel toe vir julle?” vra sy oom.

16 “Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” antwoord Saul. Maar oor die koningskap waarvan Samuel gepraat het, het Saul nie ’n woord gesê nie.

Saul word koning gemaak

17 Samuel het die volk bymekaargeroep by die Here se altaar in Mispa.

18 Hy het vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek self het julle, die Israeliete, laat wegtrek uit Egipte en Ek het julle vrygemaak van die mag van die Egiptenaars en van al die ander regerings wat julle onderdruk het.’”

19 Verder sê Samuel: “Maar julle, Israeliete, het nou die rug vir God gedraai, dié God wat julle altyd uithelp wanneer daar rampe is en julle moeilikheid het. Julle het mos gesê: ‘Nee, stel ’n koning oor ons aan!’ Kom staan dan nou hier voor die Here volgens julle stamme en families.”

20 Toe Samuel al die stamhoofde van Israel by die altaar laat staan, is die stam van Benjamin geloot.

21 Toe die familiehoofde van die stam van Benjamin na die altaar kom, is die familie van Matri geloot. Uiteindelik is Saul, Kis se seun, geloot. Maar toe hulle hom soek, is hy nie daar nie!

22 Daarop vra hulle vir die Here: “Is die man wat geloot is hier?” Die Here se antwoord was: “Ja, hy kruip tussen die bagasie weg.”

23 Hulle het hom gou daar gaan haal, en toe hy tussen die ander mense staan, was hy ’n kop langer as hulle.

24 Samuel sê toe vir die volk: “Sien julle wie het die Here gekies? Daar is nie nog een soos hy nie.” Daarop skree die volk: “Lank lewe die koning!”

25 Samuel het vir die volk die reëls van die koningskap verduidelik en dit op ’n rol geskryf wat hy in die tempel neergesit het. Daarna het hy almal huis toe gestuur.

26 Saul is ook na sy huis in Gibea toe. ’n Klompie dapper mans is saam met hom, want die Here het hulle elkeen se hart geroer.

27 Maar ’n klomp niksnutte het gesê: “Moet dié vent ons uit die moeilikheid kry?” Hulle het nie respek vir hom gehad nie en het nie eers ’n geskenk vir hom gevat nie. Saul het hom maar doof gehou.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31