1 Daar het mense van Sif af na Saul toe in Gibea gekom en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar op die Gakilarant, oorkant die Jeshimonwoestyn wegkruip?”
2 Saul het toe alles agtermekaar gekry en afgegaan na die Sifwoestyn met drie groepe van die beste manne van Israel om na Dawid te gaan soek.
3 Saul het langs die pad op die Gakilarant kamp opgeslaan wat oorkant die Jeshimonwoestyn lê. Dawid was nog in die woestyn en toe hy sien Saul kom soek dáár ook na hom,
4 het hy verkenners uitgestuur en presies uitgevind waar Saul is.
5 Dawid het toe self na die plek gegaan waar Saul se kamp is en gesien waar Saul en generaal Abner, Ner se seun, slaap. Die manskappe het in ’n kring gelê en slaap, met Saul in die middel.
6 Agimelek, die Hetiet, en Abisai, Joab se broer (hulle was Seruja se seuns), was by Dawid. Hy vra toe vir hulle: “Wie sal saam met my na Saul toe gaan in die kamp?”“Ék sal saam met jou gaan,” antwoord Abisai.
7 Toe dit pikdonker is, sluip Dawid en Abisai by die manskappe verby, en jou waarlik, daar lê Saul vas aan die slaap met Abner en die manskappe in ’n kring om hom. Sy spies is by sy kop in die grond gesteek.
8 “God het vannag jou vyand in jou mag gegee,” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met een hou met die spies deurboor. Net een steek sal genoeg wees.”
9 “Nee, moenie hom doodmaak nie,” fluister Dawid vir Abisai. “Iemand wat sy hand teen die Here se gesalfde oplig, sal nie ongestraf bly nie.
10 So waar as die Here leef, die Here self sal Saul laat doodgaan: wanneer sy tyd kom, sal hy ’n natuurlike dood sterf, of hy sal in ’n geveg omkom.
11 Die Here bewaar my daarvan dat ek my hand teen sy gesalfde oplig. Kom ons vat liewer sy spies daar by sy kop en sy waterkruik, dan maak ons dat ons wegkom.”
12 Dawid het die spies en die waterkruik wat by Saul se kop was, gevat en toe het hulle twee padgegee. Niemand het hulle gesien of eers geweet dat hulle daar was nie. Die manskappe was vas aan die slaap; nie een het wakker geword nie, want die Here het elkeen van hulle soos ’n klip laat slaap.
13 Dawid het deur die valleitjie gegaan en aan die ander kant op ’n veilige afstand op ’n hoë rots gaan staan.
14 Toe roep hy na die manskappe en na Abner, Ner se seun: “Abner! Antwoord jy dan nie ’n mens nie?”Abner skree toe terug: “Wie’s jy wat so vir die koning staan en skree?”
15 Dawid antwoord hom: “Jy’s mos die beste man in die hele Israel? Hoekom het jy dan nie jou leier, die koning, opgepas nie? Daar het ’n manskap in die kamp ingekom om jou leier, die koning, dood te maak!
16 Jy maak nie mooi nie, Abner! Julle almal verdien die dood oor julle nie julle leier, die Here se gesalfde, oppas nie! Kyk ’n bietjie waar is die spies van die koning en sy waterkruik wat by sy kop was!”
17 Saul het Dawid se stem herken en gevra: “Is dit jóú stem wat ek hoor, Dawid, my kind?”Dawid het geantwoord: “Ja, U Majesteit, dis mý stem!”
18 Verder sê hy: “U Majesteit, waarom vervolg u my? Wat het ek verkeerd gedoen en waaraan is ek skuldig?
19 Luister tog asseblief na wat ek sê, U Majesteit: As dit die Here is wat u teen my opsteek, bring dan vir Hom ’n offer. Maar as dit mense is, is hulle vervloek voor die Here, want hulle het my nou weggejaag uit die land wat aan die Here behoort en waar ek mag woon. Hulle het as’t ware vir my gesê: ‘Gaan dien maar ander gode!’
20 Moet tog nie dat ek op vreemde grond, ver van die Here se altaar af doodgaan nie. Het die koning van Israel regtig ’n hele leër gevat om een enkele sandluis te soek, om een ou patrysie in die berge te kom jag?”
21 Saul het geantwoord: “Ek het ’n groot fout gemaak. Kom terug, Dawid, my kind. Ek sal jou nie weer probeer doodmaak nie, want mý lewe was vandag vir jou kosbaar. Ek was regtig dom en het ’n groot fout gemaak.”
22 Dawid sê toe vir hom: “Hier is u spies, U Majesteit. Laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal.
23 Die Here is goed vir elke mens wat regverdig en getrou is. Hy het u vannag in my mag gegee en tog het ek nie my hand teen die Here se gesalfde opgelig nie.
24 Ek hoop regtig die Here sal net soveel waarde aan my lewe heg as wat ek vannag aan u lewe geheg het, en dat Hy my uit elke moeilikheid sal red.”
25 Daarop antwoord Saul hom: “Die Here sal vir jou goed wees, Dawid, my kind. Jy gaan nog groot dinge doen en baie sukses behaal.”Dawid het daarna sy eie koers gegaan en Saul is terug na sy plek toe.