1 Dawid het vir homself gesê: “Eendag is eendag, dan val ek nog in Saul se hande. Dit sal beter wees as ek so gou moontlik padgee na die Filistyne se gebied toe; dan sal Saul ophou om my oral in Israel te soek. So sal ek van hom ontslae raak.”
2 Daarom het Dawid met sy 600 man oorgetrek na Maok se seun Akis wat toe die koning van Gat was.
3 Die manne het hulle huisgesinne ook saamgeneem. Dawid het al twee sy vroue saamgevat: Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel. Hulle het almal by Akis in Gat gebly.
4 Die mense het vir Saul vertel dat Dawid na Gat toe gevlug het. Hy het daarna opgehou om hom te probeer vang.
5 Dawid het vir Akis gesê: “Kan ek nie maar ’n plek kry in een van u plattelandse dorpe en daar gaan bly nie? Dis mos nie nodig dat ek hier by u in die hoofstad bly nie.”
6 Akis het daardie selfde dag Siklag vir Dawid gegee. Daarom behoort Siklag vandag nog aan die konings van Juda.
7 Dawid het ’n jaar en vier maande in die Filistyne se gebied gebly.
8 Terwyl hy daar was, het hy en sy manne strooptogte uitgevoer op die Gesurstam, op die mense van Geser en die Amalekiete. Hierdie mense het in die streek van Telam af na Sur toe en tot by Egipte gebly.
9 Wanneer Dawid so ’n gebied aangeval het, het hy al die mense doodgemaak. Maar die skape en beeste en donkies en kamele en die mense se klere het hy saamgevat. Dan het hy altyd na Akis toe teruggegaan.
10 As Akis hom dan vra: “Waar het julle nóú weer ’n strooptog uitgevoer?” antwoord Dawid: “In die Negev van Juda,” of “in die Negev waar die Jeragmeëlfamilie bly,” of “in die Negev waar die Keniete bly.”
11 Dawid het nooit enige man of vrou lewendig na Gat toe gevat nie, want hy het gedink: “Anders verraai hulle ons en sê: ‘Dis wat Dawid gedoen het.’” Dit was Dawid se manier so lank as wat hy in die gebied van die Filistyne gebly het.
12 Akis het Dawid vertrou. Hy het gedink Dawid het sy naam so sleg gemaak by sy eie mense in Israel dat hy altyd vir hom wat Akis is, sou werk.