1 Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul huil noudat Ek nie meer wil hê hy moet die koning van Israel wees nie? Maak ’n beeshoring vol olyfolie en gaan na Isai toe wat in Betlehem bly. Ek stuur jou na hom toe, want Ek het gesien een van sy seuns sal ’n goeie koning wees.”
2 Samuel sê toe: “Maar ek kan nie sommer net gaan en dit doen nie! As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak!”“Nou maar vat dan ’n verskalf,” sê die Here, “en sê jy wil die dier vir die Here gaan offer.
3 Nooi vir Isai na die ete by die offer, dan sal Ek vir jou sê wat jy moet doen. Salf dan die een wat Ek jou sal wys.”
4 Samuel het gemaak soos die Here vir hom gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, het die mense geskrik en die leiers van die dorp het na hom toe gekom en gevra: “Kom u omdat hier ’n probleem is?”
5 “Nee, daar’s nie ’n probleem nie,” sê hy. “Ek het net vir die Here kom offer. Was julle en trek skoon klere aan, dan kan julle saam met my van die offervleis eet.”Hy het ook vir Isai en sy seuns gesê om dit te doen en hulle na die ete by die offer genooi.
6 Toe Isai en sy seuns inkom, sien Samuel vir Eliab raak en dink: “Dís die man wat die Here wil laat salf.”
7 Maar die Here sê vir Samuel: “Moenie kyk hoe hy lyk of hoe groot hy is nie. Ek wil hom nie hê nie. Dis nie wat ’n mens kan sien wat tel nie. Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ’n mens se hart.”
8 Isai roep toe vir Abinadab en stel hom aan Samuel voor. Samuel dink toe: “Die Here het seker ook nie hierdie een gekies nie.”
9 Daarna stel Isai vir Samma aan hom voor, en Samuel dink: “Die Here het ook nie hierdie een gekies nie.”
10 So het Isai sewe van sy seuns aan Samuel voorgestel. Maar Samuel sê vir hom: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.
11 Is dit al jou kinders?”Isai antwoord hom: “Die jongste seun is nie hier nie, want hy pas die skape op.”“Laat hom ook kom,” sê Samuel vir Isai, “want ons gaan nie eet voor hy ook hier is nie.”
12 Isai het hom laat haal. Hy was ’n mooi kind met ’n seunsgesig en mooi oë. Toe sê die Here: “Dis hy! Staan op en salf hom.”
13 Samuel het die horing met olyfolie gevat en dit daar voor sy broers op Dawid se kop uitgegooi. Van daardie dag af het die Here se Gees in Dawid gewerk.Samuel het teruggegaan Rama toe.
14 Die Gees van die Here was nie meer by Saul nie. Saul het partykeer verskriklik bang geword, want die Here het toegelaat dat ’n slegte gees hom beetpak.
15 Saul se mense wat in die paleis werk, het vir hom gesê: “Ons weet wat die probleem is: u kry die aanvalle omdat ’n bose gees u beetpak.
16 U Majesteit moet maar net sê, dan soek ons dadelik iemand wat op ’n lier kan speel. As die bose gees u beetpak en die man speel vir u, sal u gou-gou beter voel.”
17 “Goed,” sê Saul, “kyk maar of julle iemand kry wat goed kan speel. Bring hom dan vir my.”
18 Een van die paleiswerkers sê toe: “Ek weet van iemand wat goed kan speel: een van die seuns van Isai wat in Betlehem bly. Hy is nie bang nie en hy kan goed veg. ’n Mens kan luister na wat hy sê, en hy is ’n mooi jong man. Die Here is by hom.”
19 Saul het toe vir Isai laat weet: “Stuur jou seun Dawid, die een wat skape oppas, na my toe.”
20 Isai het brood en ’n leersak met wyn op ’n donkie gelaai en ook ’n jong bokkie saam met Dawid vir Saul gestuur.
21 Dawid het by Saul gekom en vir hom begin werk. Saul het sommer baie van Dawid gehou en hy het Saul se wapendraer geword.
22 Daarom het Saul vir Isai ’n boodskap gestuur: “Ek wil hê Dawid moet vir my bly werk, want ek hou van hom.”
23 Elke keer as die bose gees Saul beetpak, vat Dawid die lier en speel daarop. Dan gee die bose gees van Saul af pad, en word hy kalm en voel beter.