1 Dawid het van daar af weggevlug na die Adullamgrot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en na hom toe gegaan.
2 Mense wat in die moeilikheid was, wat in die skuld was of wat bitter was oor die een of ander ding, het ook na Dawid toe gegaan. Hy het hulle leier geword. Daar was omtrent 400 mense by hom.
3 Dawid is daarvandaan na Mispe in Moab. Hy het vir die koning van Moab gevra: “Kan my pa en ma asseblief hier by u kom bly tot ek weet wat God met my gaan doen?”
4 Dawid het hulle toe by die koning van Moab gelos. Hulle het daar gebly so lank as wat Dawid in die berg weggekruip het.
5 Die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Moenie in die berg wegkruip nie. Gaan na Juda toe.” Dawid het dit gedoen en na die Geretbos toe gegaan.
6 Saul het gehoor dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. Saul het onder die tamariskboom op die bult by Gibea gaan sit met sy spies in sy hand. Al sy amptenare was by hom.
7 Hy sê toe vir sy amptenare wat daar om hom staan: “Luister hier, manne van Benjamin! Dink julle daardie seun van Isai sal vir julle elkeen lande en wingerde gee? Sal hy julle leiers maak van groepe van 100 of 1 000 manskappe?
8 Is dít die rede hoekom julle almal planne maak teen my en niemand my eers vertel dat my eie seun en daardie seun van Isai vir mekaar beloftes gemaak het nie? Nie een van julle gee meer vir my om nie, want niemand sal vir my kom sê dat my eie seun een van my werkers teen my opgesteek het sodat hy nou sy kans afwag om my by te kom nie! Dís nou hoe dit is!”
9 Doëg, die man uit Edom, het self ook daar by Saul se amptenare gestaan. Hy sê toe: “Ek het gesien die seun van Isai kom daar by Nob aan, by Agimelek, Agitub se seun.
10 Agimelek het vir hom by die Here uitgevind wat hy moet doen; hy het vir hom padkos gegee en hy het boonop nog Goliat se swaard ook vir hom gegee.”
11 Die koning laat kom toe priester Agimelek, Agitub se seun, saam met sy hele familie wat almal priesters was in Nob. Hulle het almal na die koning toe gekom.
12 Saul sê toe: “Luister mooi wat ek vir jou gaan sê, seun van Agitub!”“Ja, U Majesteit,” antwoord hy.
13 Saul sê vir hom: “Hoekom het julle teen my planne gemaak, jy en daardie seun van Isai? Jy het vir hom kos gegee en ’n swaard en toe nog vir God ook gevra wat hy moet doen. Nou wag hy net sy kans af om teen my in opstand te kom. Dís hoe dit nou is!”
14 Agimelek antwoord die koning: “Maar, U Majesteit, wie van al u werkers is so getrou soos Dawid, u eie skoonseun, hoof van u lyfwag, iemand vir wie almal in die paleis respek het?
15 Dit was ook nie die eerste keer dat ek vir God gevra het wat Dawid moet doen nie. Ek het dit al baie gedoen! U Majesteit moet asseblief nie hierdie dienaar van u of sy familie van enigiets beskuldig nie, want ek het heeltemal niks geweet van hierdie hele saak nie.”
16 “Jy moet doodgemaak word, Agimelek, jy en jou hele familie,” antwoord die koning.
17 Hy sê toe vir sy wagte wat daar by hom staan: “Komaan! Maak die priesters van die Here dood, want húlle is ook aan Dawid se kant en hulle het geweet hy vlug, maar hulle het my nie kom sê nie!”Maar die koning se amptenare het g’n hand verroer nie; hulle wou nie die priesters van die Here aanval nie.
18 Die koning sê toe vir Doëg: “Komaan jy! Doen jy dit!”Doëg, die Edomiet, het self op die priesters toegesak en hulle aangeval. Hy het daardie dag 85 mans wat priesterklere aangehad het, doodgemaak.
19 Hy het ook alles in Nob, die dorpie waar die priesters gebly het, doodgemaak: mans en vroue, kinders, babatjies, beeste, donkies, skape en bokke. Almal is voor die voet met swaarde doodgesteek.
20 Net een van Agimelek se seuns het weggekom. Dit was Abjatar. Hy het na Dawid toe gevlug
21 en vir hom vertel dat Saul die priesters van die Here vermoor het.
22 Dawid het vir Abjatar gesê: “Daardie dag in die tempel toe Doëg, die Edomiet, daar was, het ek voor my siel geweet hy gaan dit vir Saul vertel. Ék moet die skuld kry vir wat met jou familie gebeur het.
23 Bly by my. Moenie bang wees nie, want die een wat jóú wil doodmaak, wil mý ook doodmaak. By my is jy veilig.”