1 Samuel 7 DB

1 Die mense van Kirjat-Jearim het toe die ark gaan haal en hom na Abinadab, wat op ’n bult gebly het, gevat. Hulle het vir sy seun Eleasar gesê om niks anders te doen nie as om net die ark van die Here op te pas.

2 Die ark het ’n lang tyd, seker twintig jaar, in Kirjat-Jearim gebly. Al die Israeliete het gedurig by die Here gaan kla.

Die Israeliete wen die Filistyne

3 Samuel sê toe vir hulle: “As julle regtig ernstig is om na die Here toe terug te kom, moet julle ontslae raak van die vreemde gode en godinne wat julle het. Wees getrou aan die Here en dien Hom alleen, dan sal Hy julle vrymaak uit die mag van die Filistyne.”

4 Die Israeliete het toe ontslae geraak van die Baälgode en die Astartegodinne en net die Here gedien.

5 Samuel sê toe: “Laat al die Israeliete by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle by die Here pleit.”

6 Hulle het toe by Mispa bymekaargekom. Hulle het water geskep en dit by die altaar uitgegooi. Hulle het daardie dag niks geëet nie en het bely: “Ons het teen die Here gesondig!” Samuel het daar in Mispa vir die Israeliete gesê wat die wil van die Here is.

7 Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete in Mispa saamgekom het, het die regeerders van die stadstate besluit om teen die Israeliete te gaan oorlog maak. Die Israeliete het dit gehoor en was bang vir die Filistyne.

8 Hulle het vir Samuel gesê: “Moet asseblief nie ophou om vir ons by die Here te pleit dat Hy ons teen die Filistyne help nie.”

9 Samuel het ’n lam wat nog aan sy ma drink, gevat en die hele lam vir die Here op die altaar verbrand. Hy het die Here se hulp vir die Israeliete gevra, en die Here het sy gebed verhoor.

10 Samuel was nog besig om die lam te verbrand, toe begin die Filistyne al met die geveg. Op daardie oomblik het die Here harde donderslae bokant die Filistyne laat slaan. Dit het hulle só deurmekaar gemaak dat hulle die geveg teen die Israeliete verloor het.

11 Die manskappe van die Israeliete het die Filistyne van Mispa af tot onderkant Bet-Kar gejaag en hulle afgemaai.

12 Samuel het tussen Mispa en Sen ’n groot klip regop gesit as ’n monumentjie. Hy het die klip Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot so ver het die Here ons gehelp.”

13 Die Filistyne is op hulle plek gesit en het nie weer op Israel se grond gekom nie, want solank Samuel geleef het, het die Here hulle laat swaarkry.

14 Die Israeliete het die dorpe wat die Filistyne van hulle afgevat het, weer teruggekry, van Ekron af tot by Gat. Die Filistyne was ook nie meer baas oor die gebiede langsaan nie. Daar was ook vrede tussen die Israeliete en die Amoriete.

15 Sy hele lewe lank het Samuel vir die Israeliete gesê wat die Here wil hê.

16 Hy het elke jaar Bet-El, Gilgal en Mispa toe gegaan en by al die altare na die Israeliete se regsake geluister en vir hulle gesê wat die Here se uitspraak is.

17 Nadat hy by al die plekke was, het hy teruggegaan Rama toe, waar hy gebly het. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou en die Israeliete kon ook dáár hoor wat die wil van die Here is.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31