1 Daar was eenkeer ’n man met die naam Elkana. Hy het in Ramatajim in die Efraimsberge gebly. Sy pa se naam was Jerogam; sy oupa was Elihu en sy oupagrootjie was Tohu. Hulle was van Suf se familie wat van Efrata af gekom het.
2 Elkana het twee vroue gehad. Die een met wie hy eerste getroud is se naam was Hanna. Die ander vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie.
3 Elkana het gereeld een keer ’n jaar met sy vroue en kinders na die tempel in Silo gegaan om voor die magtige Here te kniel en vir Hom te offer. Eli en sy twee seuns, Hofni en Pinehas, was die Here se priesters in Silo.
4 Elke keer as Elkana ’n dier geoffer het, het hy dele van die gaar vleis vir Peninna en al haar seuns en dogters gegee,
5 maar vir Hanna het hy ’n spesiale deel gegee, want hy was vir haar die liefste, al het die Here nie vir haar kinders gegee nie.
6 Dan het Peninna, wat nie van Hanna gehou het nie, haar gespot oor die Here nie vir haar kinders gee nie. Die gespot het Hanna verskriklik ontstel,
7 want dit het elke jaar gebeur wanneer sy na die tempel van die Here toe gegaan het. Peninna het haar só gespot dat sy op ’n dag begin huil het en nie wou eet nie.