18 Nederig het Hanna hom geantwoord: “Dankie dat u vir my goed is.” Sy het na haar mense toe teruggegaan en geëet. Sy het nie meer so ongelukkig gelyk nie.
19 Vroeg die volgende môre het Elkana en sy familie in die tempel voor die Here op hulle knieë gegaan en daarna teruggegaan na hulle huis in Rama.Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink.
20 Binne drie maande het Hanna ’n baba verwag. Toe die seuntjie gebore is, het sy hom Samuel genoem, “want ek het die Here gevra om hom vir my te gee,” het sy gesê.
21 Toe Elkana die volgende jaar met sy familie Silo toe gaan om die jaar se offer vir die Here te bring en om ’n gelofte wat hy afgelê het, na te kom,
22 het Hanna nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wanneer die kind nie meer aan my drink nie, sal ek hom vat en hom vir die Here gaan gee. Dan sal hy vir altyd daar bly.”
23 Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy goeddink, en mag die Here jou help.” Hanna het by die huis gebly en haar kind versorg totdat hy nie meer aan haar gedrink het nie.
24 Net nadat sy die kind gespeen het, toe hy nog baie klein was, het Hanna hom saamgevat na die tempel van die Here in Silo. Hulle het ook ’n drie jaar oue bulkalf, omtrent twintig kilogram meel en ’n groot kruik vol wyn saamgevat.