21 Toe Elkana die volgende jaar met sy familie Silo toe gaan om die jaar se offer vir die Here te bring en om ’n gelofte wat hy afgelê het, na te kom,
22 het Hanna nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wanneer die kind nie meer aan my drink nie, sal ek hom vat en hom vir die Here gaan gee. Dan sal hy vir altyd daar bly.”
23 Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy goeddink, en mag die Here jou help.” Hanna het by die huis gebly en haar kind versorg totdat hy nie meer aan haar gedrink het nie.
24 Net nadat sy die kind gespeen het, toe hy nog baie klein was, het Hanna hom saamgevat na die tempel van die Here in Silo. Hulle het ook ’n drie jaar oue bulkalf, omtrent twintig kilogram meel en ’n groot kruik vol wyn saamgevat.
25 Nadat hulle die bulkalf geslag het, het hulle die kind na Eli toe gevat.
26 “Verskoon my, Meneer,” het Hanna gesê, “sowaar as wat u leef, ek is die vrou wat hier by u tot die Here gestaan en bid het.
27 Dis vir hierdie kind dat ek gebid het, en die Here het vir my gegee wat ek vir Hom gevra het.