11 Baie vroeg die volgende môre, met die laaste wagbeurt van die nag, het Saul uit drie rigtings die kamp aangeval. Hulle het die Ammoniete afgemaai tot die middag toe. Dié wat dit oorleef het, was só uitmekaargejaag dat nie twee van hulle bymekaar was nie.
12 Die volk sê toe vir Samuel: “Wie het gesê: Moet Saul van alle mense ons koning wees? Bring daardie mans hier dat ons hulle kan doodmaak.”
13 Maar Saul sê: “Niemand word vandag doodgemaak nie, want op hierdie dag het die Here Israel vrygemaak.”
14 Daarna sê Samuel vir die mense: “Kom ons gaan Gilgal toe, dan erken ons ons nuwe koning.”
15 Almal het Gilgal toe gegaan en daar voor die altaar in Gilgal gesê dat Saul koning is. Hulle het offers geslag en by die altaar geëet. Saul en al die Israeliete het daar ’n groot fees gehou.