11 “Die Here het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en vir my, Samuel, gestuur en die Here het julle vrygemaak van die mag van julle vyande aan alle kante sodat julle rustig kon woon.
12 Maar die oomblik toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar móét nou ’n koning oor ons heers.’ En dit terwyl die Here julle God tog julle koning is!
13 Wel, nou hét julle die koning wat julle wou gehad het! Julle het vir ’n koning gevra, en die Here hét vir julle ’n koning gegee!
14 “As julle respek het vir die Here, Hom dien en na Hom luister en nie teen sy bevele in opstand is nie; as julle én die koning wat oor julle regeer, die Here volg, sal Hy julle God wees.
15 Maar as julle nie na Hom luister nie en teen sy bevele in opstand is, sal die Here julle laat swaarkry soos Hy met julle voorouers gemaak het.
16 “Maar wag, die saak is nog nie afgehandel nie! Kyk self watter groot wonder gaan die Here voor julle oë doen:
17 dis mos tyd om die koring te oes. Ek gaan die Here vra om ’n donderstorm en ’n reënbui te laat kom, dan sal julle moet erken en insien dat julle ’n baie verkeerde ding teen die Here gedoen het toe julle vir julleself ’n koning gevra het.”