16 “Maar wag, die saak is nog nie afgehandel nie! Kyk self watter groot wonder gaan die Here voor julle oë doen:
17 dis mos tyd om die koring te oes. Ek gaan die Here vra om ’n donderstorm en ’n reënbui te laat kom, dan sal julle moet erken en insien dat julle ’n baie verkeerde ding teen die Here gedoen het toe julle vir julleself ’n koning gevra het.”
18 Toe Samuel na die Here roep, het die Here daardie dag ’n donderstorm laat losbreek. Al die mense het groot respek gehad vir die Here en vir Samuel.
19 Almal sê toe vir Samuel: “Pleit asseblief vir ons by die Here u God dat ons nie sterf nie; want by alles wat ons verkeerd gedoen het, het ons nog die verskriklike ding gedoen om ’n koning te vra.”
20 Samuel het vir die mense gesê: “Moenie paniekerig raak nie. Julle het wel al hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet net nie die rug vir die Here draai nie. Dien Hom met hart en siel.
21 Julle moet nooit hulp soek by daardie hopelose spul afgode nie. Hulle kan niks doen nie. Hulle kan nie help nie, want hulle ís niks.
22 “Die Here sal, omdat Hy ’n goeie Naam het, nie sy mense in die steek laat nie. Ja, Hy het vas besluit dat julle sy volk sal wees.