8 Nadat Jakob Egipte toe getrek het, het julle voorouers na die Here geroep en gevra Hy moet hulle help. Hy het Moses en Aäron gestuur. Hulle het julle voorouers uit Egipte gelei en vir hulle hier ’n blyplek gegee.
9 “Maar hulle het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die generaal van die dorp Hasor. Die Here het hulle ook in die mag van die Filistyne en die koning van Moab oorgegee. Toe hulle teen julle voorouers oorlog gemaak het,
10 het hulle na die Here geroep en bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die rug vir U, Here, gedraai en die Baälgode en Astarte-godinne gedien. Red ons asseblief nou uit die mag van ons vyande. Ons sal U dien.’
11 “Die Here het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en vir my, Samuel, gestuur en die Here het julle vrygemaak van die mag van julle vyande aan alle kante sodat julle rustig kon woon.
12 Maar die oomblik toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar móét nou ’n koning oor ons heers.’ En dit terwyl die Here julle God tog julle koning is!
13 Wel, nou hét julle die koning wat julle wou gehad het! Julle het vir ’n koning gevra, en die Here hét vir julle ’n koning gegee!
14 “As julle respek het vir die Here, Hom dien en na Hom luister en nie teen sy bevele in opstand is nie; as julle én die koning wat oor julle regeer, die Here volg, sal Hy julle God wees.