1 Saul was ’n jong man toe hy koning geword het, en hy was altesaam 42 jaar lank koning oor Israel.
2 Aan die begin het Saul vir hom 3 000 van die Israeliete uitgesoek as sy soldate. Hy het 2 000 van hierdie troepe by hom in Mikmas en in die bergwêreld om Bet-El gehou, en 1 000 van hulle het hy by Jonatan in Gibea van Benjamin laat bly. Die res van die volk het hy huis toe gestuur.
3 Jonatan het die wagte van die Filistyne in Gibea aangeval. Die Filistyne het ook gehoor dat Saul al die Hebreeuse huursoldate in die land opgeroep het.
4 Die boodskap wat by al die Israeliete uitgekom het, was: “Saul het die wagte van die Filistyne aangeval en die Filistyne is nou baie kwaad vir die Israeliete.” Die gewone burgers is toe ook opgeroep om by Saul in Gilgal aan te sluit.
5 Die Filistyne het hulle gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het by Mikmas, oos van Bet-Awen, saamgetrek met 30 afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en soveel gewone burgers as wat daar sandkorrels op die seestrand is.
6 Toe die gewone burgers van Israel sien dat hulle in die moeilikheid is en dat hulle in ’n hoek is, het hulle oral gaan wegkruip: in grotte, rotsskeure, klowe, gate en droë putte.
7 Die Hebreeuse huursoldate het padgegee na die streke van Gad en Gilead oorkant die Jordaan. Saul het in Gilgal agtergebly. Die mense wat nog by hom was, was doodbang.