11 “Wat het jy gedoen?” vra Samuel. “Ek het gesien die mense begin wegloop toe u nie op die afgespreekte tyd hier is nie,” antwoord Saul, “en omdat die Filistyne by Mikmas saamgetrek is,
12 het ek gedink: die Filistyne gaan hier in Gilgal op my toesak voordat ek die Here gevra het om my te help. Ek het my toe maar sterk gehou en die brandofferdier geoffer.”
13 Toe sê Samuel vir Saul: “Dit was dom van jou. Jy het nie gedoen wat die Here jou God vir jou gesê het nie. Die Here was bereid om die koningskap oor Israel vir altyd vir jou familie te gee.
14 Maar nou sal jou koningskap nie langer bestaan nie. Die Here het klaar vir Hom ’n man uitgesoek van wie Hy baie hou en Hy het hóm as leier van sy volk gekies, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie.”
15 Samuel het toe opgestaan en weggeloop. Saul het van Gilgal na Gibea in Benjamin opgegaan. Daar het hy die manskappe getel wat nog by hom was: daar was omtrent 600 van hulle oor.
16 Saul en sy seun Jonatan en die manskappe het in Gibea in Benjamin gebly. Die Filistyne se kamp was nog in Mikmas.
17 Daar het drie afdelings uit die kamp van die Filistyne gegaan om die gewone Israeliete se goed te roof. Een groep was besig om dit te doen na Ofra se kant toe, in die omgewing van Sual;