4 Die boodskap wat by al die Israeliete uitgekom het, was: “Saul het die wagte van die Filistyne aangeval en die Filistyne is nou baie kwaad vir die Israeliete.” Die gewone burgers is toe ook opgeroep om by Saul in Gilgal aan te sluit.
5 Die Filistyne het hulle gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het by Mikmas, oos van Bet-Awen, saamgetrek met 30 afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en soveel gewone burgers as wat daar sandkorrels op die seestrand is.
6 Toe die gewone burgers van Israel sien dat hulle in die moeilikheid is en dat hulle in ’n hoek is, het hulle oral gaan wegkruip: in grotte, rotsskeure, klowe, gate en droë putte.
7 Die Hebreeuse huursoldate het padgegee na die streke van Gad en Gilead oorkant die Jordaan. Saul het in Gilgal agtergebly. Die mense wat nog by hom was, was doodbang.
8 Saul het sewe dae gewag soos Samuel met hom afgespreek het. Maar toe Samuel nie opdaag nie, het die mense van Saul af begin wegloop.
9 Daarom het hy gesê: “Bring vir my die brandoffer en die offer vir die heilige ete.” Hy het die brandofferdier geoffer,
10 en net toe hy dit klaar gedoen het, kom Samuel daar aan. Saul het uitgegaan om Samuel te groet.