8 Saul het sewe dae gewag soos Samuel met hom afgespreek het. Maar toe Samuel nie opdaag nie, het die mense van Saul af begin wegloop.
9 Daarom het hy gesê: “Bring vir my die brandoffer en die offer vir die heilige ete.” Hy het die brandofferdier geoffer,
10 en net toe hy dit klaar gedoen het, kom Samuel daar aan. Saul het uitgegaan om Samuel te groet.
11 “Wat het jy gedoen?” vra Samuel. “Ek het gesien die mense begin wegloop toe u nie op die afgespreekte tyd hier is nie,” antwoord Saul, “en omdat die Filistyne by Mikmas saamgetrek is,
12 het ek gedink: die Filistyne gaan hier in Gilgal op my toesak voordat ek die Here gevra het om my te help. Ek het my toe maar sterk gehou en die brandofferdier geoffer.”
13 Toe sê Samuel vir Saul: “Dit was dom van jou. Jy het nie gedoen wat die Here jou God vir jou gesê het nie. Die Here was bereid om die koningskap oor Israel vir altyd vir jou familie te gee.
14 Maar nou sal jou koningskap nie langer bestaan nie. Die Here het klaar vir Hom ’n man uitgesoek van wie Hy baie hou en Hy het hóm as leier van sy volk gekies, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie.”