12 “Kom op hier na ons toe,” skree hulle vir Jonatan en sy wapendraer,” dan wys ons julle ’n ding of twee!” “Volg my,” sê Jonatan vir sy wapendraer, “die Here het hulle aan die Israeliete oorgegee.”
13 Jonatan het hande-viervoet teen die kop uitgeklim met sy wapendraer kort agter hom. Hy het die Filistyne platgeslaan, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgesteek.
14 Daar is omtrent twintig man dood in hierdie eerste aanval van Jonatan en sy wapendraer. Die lyke het sommer bymekaar gelê.
15 Paniek het onder die Filistyne in die kamp losgebreek. Dié wat in die veld was, die ander wagte wat uitgesit was en die manskappe wat die Israeliete moes beroof, het hulle ook lam geskrik. Toe daar nog ’n aardbewing ook kom, was hulle doodbenoud.
16 Die verkenners van Saul by Gibea in Benjamin het laat weet dat die kamp in rep en roer is.
17 Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Kyk wie van ons is nie hier nie.” Hulle kom toe agter dat Jonatan en sy wapendraer nie daar is nie.
18 Saul sê toe vir Agija: “Bring vir ons die ark van God.” (Die ark was toe by die Israeliete.)