44 Saul antwoord hom: “Jy móét doodgemaak word, Jonatan. As ek nie doen wat ek vir die Here gesweer het ek sal doen nie, sal Hy my baie swaar straf.”
45 Maar toe sê die manskappe vir Saul: “Moet Jonatan wat die Israeliete so ver laat wen het, doodgemaak word? Dit sal die dag wees! So waar as die Here leef, niemand raak aan Jonatan nie, want wat hy vandag gedoen het, het hy net reggekry omdat God hom gehelp het!” So het die manne Jonatan van die dood gered.
46 Saul het toe nie agter die Filistyne aangegaan nie, en die Filistyne het teruggegaan na hulle eie plek.
47 Saul het die sake van die koningskap eers goed gereël en daarna het hy oorlog gemaak teen al die vyande wat rondom die Israeliete gebly het: teen die Moabiete, die Ammoniete, die Edomiete, die koning van Soba en die Filistyne. Oral waar hy geveg het, het hy gewen.
48 Hy was nie ’n bang man nie. Hy het die Israeliete vrygemaak van die Amalekiete wat hulle gedurig aangeval en hulle goed gevat het.
49 Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua. Hy het ook twee dogters gehad; die oudste se naam was Merab en die jongste Mikal.
50 Saul was getroud met Aginaäm. Sy was die dogter van Agimaäs. Die naam van Saul se generaal was Abner. Abner was sy neef. Hy was Ner se seun.