14 “Maar hoekom hoor ek dan skape blêr en beeste bulk?” vra Samuel.
15 “O, dit kom van die Amalekiete af,” sê Saul. “Die manne het die beste skape en beeste saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons doodgemaak.”
16 “Bly stil,” sê Samuel vir Saul. “Kom ek sê vir jou wat die Here vannag vir my gesê het.” “Ja, sê maar,” sê Saul.
17 “Jy het mos eers gedink jy is onbelangrik, nie waar nie?” sê Samuel. “Maar toe word jy die leier van al die Israeliete, want die Here het jou koning laat maak oor Israel.
18 Die Here het jou gestuur om vir Hom ’n werk te gaan doen. Hy het vir jou gesê: ‘Saul, jy moet daardie klomp slegte mense, die Amalekiete, gaan doodmaak. Veg teen hulle totdat daar niks van hulle oor is nie.’
19 Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy van die goed gegryp wat julle by die Amalekiete gevat het? Jy het ’n lelike ding gedoen. Die Here hou niks daarvan nie.”
20 “Maar ek hét na die Here geluister,” sê Saul vir Samuel. “Ek het gaan doen wat die Here gesê het ek moet doen. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar ek het al die ander Amalekiete doodgemaak.