6 Maar hy het eers vir die Keniete laat weet: “Maak dat julle wegkom van die Amalekiete af, anders maak ek julle dalk saam met hulle dood. Ek wil dit nie doen nie, want julle was goed vir die Israeliete toe hulle uit Egipte getrek het.” Die Keniete het toe van die Amalekiete af padgegee.
7 Saul het die Amalekiete aangeval en hulle van Gawila af gejaag tot by Sur, naby Egipte.
8 Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewendig laat vang, maar al die ander mense laat doodmaak.
9 Saul en sy mense het nie vir Agag doodgemaak nie. Hulle het ook nie die beste skape, bokke en beeste doodgemaak nie; ook nie die tweede beste diere en die jong ramme nie. Hulle wou nie die mooi diere doodmaak nie, maar die diere wat niks werd was nie, die goed wat niemand wou hê nie, dié het hulle doodgemaak.
10 Die Here sê toe vir Samuel:
11 “Ek is jammer Ek het vir Saul laat koning maak, want hy luister nie na My nie en doen nie wat Ek vir hom sê nie.”Samuel was baie ongelukkig daaroor en hy het dwarsdeur die nag ernstig gebid.
12 Hy het vroeg die môre opgestaan om Saul te gaan sien. Die mense sê toe vir hom: “Saul het Karmel toe gegaan om daar vir homself ’n monument op te sit. Daarvandaan is hy hier verby af Gilgal toe.”