20 Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by ’n wagter gelos. Hy het die goed gevat en gegaan soos sy pa vir hom gesê het. Hy het by die kamp gekom net toe die manskappe hulle strydkreet skree en op hulle plekke gaan staan vir die geveg,
21 want die Israeliete en die Filistyne het hulle manskappe laat regstaan om mekaar aan te val.
22 Dawid het die goed wat hy by hom gehad het, by die man gelos wat die bagasie oppas. Hy het na die plek gehardloop waar die manne vir die geveg reggestaan het. Toe hy daar kom, het hy sy broers gevra hoe dit met hulle gaan.
23 Terwyl hy nog met hulle praat, kom die voorvegter van die Filistyne met die naam Goliat, die man uit Gat, vorentoe en skree weer dieselfde woorde sodat Dawid dit hoor.
24 Toe die Israeliete die man sien, was hulle almal doodbang en het teruggestaan.
25 Daar is vir die Israeliete gesê: “Sien julle hoe kom hierdie man elke keer vorentoe om met die Israeliete te spot? Die koning sal die man wat hom doodmaak, skatryk maak en sy dogter vir hom gee. Sy familie sal ook nie belasting hoef te betaal nie.”
26 Dawid sê toe vir die manne wat daar om hom staan: “Wat sal gebeur met die man wat daardie Filistyn doodmaak en hierdie skande vir Israel stopsit? Wie dink daardie heiden van ’n Filistyn miskien is hy dat hy so met die manskappe van die lewende God spot?”