39 Dawid maak Saul se swaard bo-oor sy oorlogsklere vas. Hy probeer toe met die klere loop, maar hy was glad nie gewoond daaraan nie.“Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy vir Saul, “ek is nie gewoond daaraan nie.” Toe trek Dawid die klere uit.
40 Hy vat sy kierie, soek vir hom vyf spoelklippies uit in die spruit, druk dit in die kantsakkie van sy bladsak en met sy slingervel in sy hand gaan hy na die Filistyn toe.
41 Die Filistyn kom al hoe nader na Dawid toe. Voor hom loop die man wat die groot skild dra.
42 Toe die Filistyn Dawid mooi bekyk en sien dat hy sommer nog ’n kind is met ’n seunsgesig, het hy hom geminag.
43 Hy sê toe vir Dawid: “Dink jy ek is ’n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het Dawid vervloek in die naam van sy gode
44 en vir hom gesê: “Kom hier, dat ek jou vleis vir die aasvoëls en jakkalse kan voer.”
45 Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom teen my veg met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek veg teen jou in die Naam van die magtige Here, die God van die manskappe van Israel, met wie jy gespot het.