17 Saul het vir Dawid gesê: “Ek wil hê jy moet met my oudste dogter, Merab, trou. Die voorwaarde is net dat jy vir my ’n dapper soldaat moet wees en in die oorloë van die Here moet veg.” Saul het gedink: “Ék hoef dan nie vir Dawid dood te maak nie; die Filistyne sal dit doen.”
18 Maar Dawid se antwoord was: “Ek en my familie is regtig te onbelangrik dat ek die koning se skoonseun kan word.”
19 Toe die tyd kom dat Merab, die dogter van Saul, met Dawid moet trou, het Saul haar laat trou met Adriël wat in Megola gebly het.
20 Intussen het Mikal, Saul se ander dogter, op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, het dit hom goed te pas gekom,
21 want hy het gedink: “Ek sal haar met hom laat trou, dan trap hy op dié manier in die slagyster en raak die Filistyne van hom ontslae.” Daarom het hy vir Dawid gesê: “Jy kry nou nog ’n kans om my skoonseun te word.”
22 Saul het vir sy amptenare gesê: “Sê vir Dawid in die geheim: ‘Weet jy, die koning is erg oor jou, en al sy amptenare hou van jou. Jy moet daaraan dink om die koning se skoonseun te word.’”
23 Toe Saul se amptenare dit vir Dawid in die oor fluister, het Dawid gesê: “Dink julle ’n mens kan so maklik die koning se skoonseun word? Ek het nie geld nie en ek is ’n onbelangrike man.”