1-2 Van daardie dag af het Saul vir Dawid by hom gehou. Hy het hom nie weer na sy pa se huis toe laat gaan nie. Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan sommer baie van hom begin hou. Hy het net soveel vir Dawid omgegee as vir homself.
3 Jonatan en Dawid het vir mekaar belowe dat hulle boesemvriende sou wees, dat hulle vir mekaar net soveel sou omgee as wat elkeen vir homself omgee.
4 Jonatan het sy mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en vir Dawid gegee. Hy het ook sy oorlogsklere en selfs sy swaard, sy boog en sy lyfband vir hom gegee.
5 Alles wat Dawid vir Saul moes doen, was ’n sukses. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Al die manskappe en die paleiswerkers was gelukkig daaroor.
6 Toe die manne terugkom van die oorlog af waarin Dawid die Filistyn doodgemaak het, het die vroue uit al die dorpe van Israel uitgegaan om koning Saul te groet. Hulle het vrolike liedjies gesing, in die rondte gedans en op tamboeryne en ander musiekinstrumente gespeel.
7 Die vroue het gesing: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.”
8 Daaroor het Saul baie kwaad geword. Hy het niks van die liedjie se woorde gehou nie en gedink: “Hulle prys Dawid vir tien duisende wat hy gewen het, maar mý prys hulle net vir duisende. Hulle moet hom nou nog net koning maak!”