4 Jonatan het by Saul vir Dawid gepleit en vir hom gesê: “Pa is koning; moet tog nie ’n verkeerde ding aan Dawid doen nie. Hy is Pa se onderdaan en hy het niks verkeerds aan Pa gedoen nie. Inteendeel, wat hy gedoen het, was net tot Pa se voordeel.
5 Hy het sy lewe gewaag om die Filistyn dood te maak, en die Here het ’n groot oorwinning vir die hele Israel gegee. Pa het dit self gesien en Pa was bly daaroor. Hoekom sou Pa dan nou sonde doen deur ’n onskuldige man soos Dawid dood te maak?”
6 Saul het na Jonatan geluister en by die Here gesweer dat hy Dawid nie sou doodmaak nie.
7 Jonatan het toe vir Dawid geroep en hom alles vertel. Hy het Dawid na Saul toe gevat en Dawid het weer soos voorheen vir Saul gewerk.
8 Daar was weer oorlog met die Filistyne en Dawid het teen hulle gaan veg. Dié keer het Dawid hulle so erg aangeval dat hulle vir hom gevlug het.
9 ’n Slegte gees het Saul toe weer beetgepak. Hy het in die paleis gesit met ’n spies in sy hand terwyl Dawid vir hom op die lier speel.
10 Saul wou vir Dawid met die spies teen die muur vasgooi, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Dawid het weggehardloop en daardie nag van die paleis af padgegee.