15 Maar nie Eli se seuns nie! Nog voor die vet vir die Here op die altaar verbrand word, kom die jong man en sê vir die een wat offer: “Gee van die vleis vir die priester om te braai. Hy wil nie gekookte vleis hê nie; jy moet vir hom rou vleis gee.”
16 As die man vir hom sê: “Wag net eers tot die Here se deel verbrand is, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die jong man: “Nee, gee dit dadelik, en as jy dit nie doen nie, vat ek dit met geweld!”
17 Dit was ’n baie verkeerde ding wat dié twee jong mans daar in die tempel gedoen het, dat hulle so min respek gehad het vir die offers van die Here.
18 Samuel het in die tempel gehelp; ’n klein seuntjie wat die klere van ’n priester dra.
19 Sy ma het ook elke jaar vir hom ’n klein manteltjie gemaak en dit saamgevat wanneer sy saam met haar man Silo toe gegaan het vir die jaar se offer.
20 Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en vir hom gesê: “Mag die Here vir jou by hierdie vrou nog kinders gee in die plek van die een wat sy van die Here gevra en weer aan Hom teruggegee het.” Daarna het hulle huis toe gegaan.
21 Die Here hét toe aan Hanna aandag gegee: sy het weer ’n baba verwag. Sy het daarna nog drie seuns en twee dogters gehad. Haar seuntjie Samuel het by die Here grootgeword.