25 As ’n mens teen iemand anders iets verkeerds doen, kan die regters jou miskien help. Maar wie sal jou help as jy teen die Here sondig?” Maar hulle het hulle nie aan hulle pa gesteur nie. Die Here was vir seker van plan om hulle dood te maak.
26 Samuel het groter geword en die Here en die mense het baie van hom gehou.
27 Daar het ’n man wat God gestuur het by Eli gekom met hierdie boodskap van die Here af: “Toe jou familie in Egipte, in die land van die farao was, het Ek vir hulle mooi gesê dat Ek die Here is.
28 Ek het jou familie gekies uit al die families van Israel om by my altaar te werk, om wierook te brand, om my priesters te wees en om vir die mense te sê wat Ek wil hê. Ek het ook vir jou familie ’n deel van die offers gegee wat die Israeliete bring.
29 Hoekom het julle dan nie respek vir die diere- en graanoffers wat Ek gesê het die mense na my woonplek toe moet bring nie? En hoekom is jou seuns vir jou belangriker as wat Ek is? Julle voer julleself vet met die beste deel van die geskenke wat my volk Israel bring om My te eer.
30 “Daarom sê Ek, die Here, die God van Israel: Ek het vir seker gesê dat jou familie geslag na geslag vir altyd in my tempel sal werk. Maar nou is Ek klaar met julle, want Ek eer die wat My eer, maar wie nie vir My respek het nie, sal self geminag word.
31 “Daar kom ’n tyd wanneer Ek die mag wat jy het en die mag van jou familie gaan kortknip, almal in jou familie sal jonk doodgaan.