1 Dawid het in Nob by priester Agimelek aangekom. Agimelek het groot geskrik toe hy Dawid sien en vir hom gevra: “Hoekom kom jy alleen hier aan sonder iemand by jou?”
2 Dawid sê toe vir priester Agimelek: “Die koning het my gestuur, maar hy het gesê ek mag vir niemand vertel waarheen hy my stuur en wat hy vir my gesê het nie. Ek sal my manskappe op ’n sekere plek kry.
3 Maar sê my, wat het jy wat ’n mens kan eet? Gee my so vyf brode of wat jy ook al het.”
4 Die priester sê toe vir Dawid: “Ek het nie gewone brood nie, net tempelbrood. Jy kan dit kry op voorwaarde dat jou manskappe rein is en nie seks gehad het nie.”
5 “Maar natuurlik was ons nie by vroue nie,” antwoord Dawid. “Die manne is rein soos altyd wanneer ons gaan oorlog maak. Al is hierdie ’n gewone ding wat ons moet gaan doen, is die manne vir seker rein.”
6 Die priester gee toe vir hom die tempelbrood, want daar was nie ander brood nie. Die enigste brood was dié wat die priesters by die altaar weggevat het toe hulle weer vars brood daar moes neersit.
7 Een van Saul se werkers was daardie dag ook om die een of ander rede in die tempel. Sy naam was Doëg. Hy het uit Edom gekom en was die baas van Saul se skaapwagters.