13 Dawid en sy manne, omtrent 600 van hulle, het gereedgemaak en padgegee uit Keïla en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid uit Keïla weggekom het, het hy nie na die dorp opgetrek nie.
14 Dawid het in veilige plekke in die veld en in die berge van die Sifwoestyn gaan bly. Saul het dae lank na hom gesoek, maar God het nie vir Dawid aan hom oorgegee nie.
15 Dawid het gesien dat Saul daarop uit was om hom dood te maak.Toe Dawid in die Sifwoestyn in Goresa was,
16 het Jonatan, Saul se seun, na hom toe gekom. Jonatan het vir Dawid gesê om sterk te wees en op God te vertrou.
17 Hy het gesê: “Moenie bang wees nie. My pa sal jou nie in die hande kry nie. Jý is die een wat koning oor Israel gaan word. Ek sal onder jou wees. My pa weet dit sal so wees.”
18 Hulle twee het by ’n altaar van die Here ’n ooreenkoms met mekaar gemaak. Jonatan is daarna huis toe, maar Dawid het in Goresa gebly.
19 Daar het mense van Sif na Saul toe in Gibea gegaan en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar by ons wegkruip. Hy is in die veilige plekke by Goresa daar op die Gakilarant suid van die Jeshimonwoestyn.