2 Dawid het toe deur die priester vir die Here gevra: “Moet ek hierdie klomp Filistyne gaan aanval?”Die Here het geantwoord: “Ja, gaan val hulle aan dat Keïla weer vry kan wees.”
3 Maar die manne van Dawid het vir hom gesê: “Ag nee, man! Ons het al genoeg moeilikheid hier in Juda, wat nog as ons Keïla toe gaan en die soldate van die Filistyne gaan aanval!”
4 Dawid het toe weer deur die priester die Here se raad gaan vra. Die Here het hom geantwoord: “Maak klaar en gaan af na Keïla toe, want Ek gaan die Filistyne aan jou oorgee.”
5 Dawid en sy manne is toe na Keïla toe. Hulle het teen die Filistyne geveg, hulle vee afgeneem en baie van hulle doodgemaak. So het Dawid die mense van Keïla gered.
6-9 Saul het gehoor Dawid het na Keïla toe gegaan. Hy het gedink: “God het hom om die bos gelei en hy is nou in my mag. Hy is vasgekeer in ’n dorp met deure en sluitbalke.”Saul het toe al die burgers opgeroep vir oorlog. Hulle moes na Keïla toe gaan en Dawid en sy manne in die dorp vaskeer. Toe Dawid hoor wat Saul se plan met hom is, het hy vir priester Abjatar gesê: “Bring die priestersak waarmee jy uitvind wat die Here sê.” (Abjatar, Agimelek se seun, het die priestersak saamgevat toe hy na Dawid toe gevlug het in Keïla.)
10 Dawid sê toe: “Here, God van Israel, hierdie dienaar van u het sonder twyfel gehoor dat Saul van plan is om na Keïla toe te kom en die dorp uit te wis omdat ek hier is.
11 Sal die burgers van Keïla my aan Saul oorgee? Sal Saul hierheen kom, soos ek gehoor het? Here, God van Israel, sê my asseblief wat gaan gebeur!”Die Here het geantwoord: “Ja, Saul gaan hierheen kom.”