1 Samuel is oorlede en die hele Israel het saamgekom om oor hom te huil. Hulle het hom by sy huis in Rama begrawe. Dawid het afgegaan na die Maonwoestyn.
2 Daar was ’n man in Maon wat ook ’n plek by Karmel gehad het. Dié man was skatryk. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was juis besig om sy skape in Karmel te skeer.
3 Die man se naam was Nabal. Hy was van die Kalebstam. Sy vrou se naam was Abigajil. Sy was ’n mooi en slim vrou, maar hy was ’n hardkoppige en gemene vent.
4 Dawid het in die woestyn gehoor dat Nabal besig is om sy skape te skeer.
5 Hy stuur toe tien jong manne en sê vir hulle: “Gaan na Nabal toe in Karmel en sê vir hom ek stuur groete.
6 Sê vir hom ek wens hom alle voorspoed toe: vir hom, vir sy familie en vir sy boerdery.
7-8 Sê vir hom ek het gehoor dis skeertyd. As hy vir sy werkers vra, sal hulle hom vertel dat ons sy skaapwagters altyd goed behandel het as hulle in ons omgewing was. In al die tyd wat hulle by Karmel was, het daar nooit ’n skaap weggeraak nie. Daarom verwag ek dat hy julle vriendelik sal ontvang. Dis buitendien ’n feestyd. Sê vir hom ek vra beleef dat hy vir my en vir julle sal gee wat hy kan.”