14 Een van die jong skaapwagters het vir Nabal se vrou, Abigajil, gaan vertel wat gebeur het: “Dawid het uit die woestyn manne gestuur om vir Meneer voorspoed toe te wens, maar hy het hulle afgejak.
15 En dié mense was baie goed vir ons: toe ons in die oop veld was, het niemand ons ooit lastig geval as ons naby hulle was nie. Daar is ook nooit ’n skaap gesteel nie.
16 Solank ons met die skape naby hulle gewei het, was hulle dag en nag soos ’n muur om ons.
17 U moet nou asseblief maar kyk wat u kan doen, want Meneer en sy hele familie gaan groot teëspoed kry. En hy is so ’n nare mens dat niemand met hom daaroor kan praat nie.”
18 Abigajil het gou 200 brode, twee groot erdekruike vol wyn, vyf gaar skape, vyf bakke vol gebraaide koring, 100 rosyntjiekoeke en 200 pakkies gedroogde vye op donkies laat laai.
19 Sy het vir haar helpers gesê: “Gaan solank, ek kom agterna.” Maar sy het niks vir haar man gesê nie.
20 Sy het op ’n donkie gery en in ’n kloof afgegaan. Dawid en sy manne was van die ander kant af op pad. Sy het skielik op hulle afgekom.