20 Sy het op ’n donkie gery en in ’n kloof afgegaan. Dawid en sy manne was van die ander kant af op pad. Sy het skielik op hulle afgekom.
21 Dawid het juis geloop en dink: “Ek het met ander woorde die vent se goed verniet opgepas in die woestyn. Hy het nie ’n enkele skaap verloor nie, en nou kry ek stank vir dank.
22 God weet, nie een van die mans of seuns by hom sal môre die son sien opkom nie!”
23 Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie afgeklim en by Dawid se voete met haar gesig teen die grond gebuig.
24 Terwyl sy so by Dawid se voete op haar knieë staan, sê sy vir hom: “Dit is alles mý skuld, Meneer! Mag ek asseblief met u praat, en sal u so vriendelik wees om na my te luister?
25 U moet u tog nie steur aan daardie niksnut van ’n Nabal nie. Hy is net soos sy naam sê: ’n dwaas. Ek het regtig nie die jong manne gesien wat u gestuur het nie.
26 So waar as die Here leef en so waar as wat u leef, Meneer: dis die Here wat gekeer het dat u eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek is ook seker dit sal met u vyande, met almal wat u skade wil aandoen, gaan soos dit met Nabal gaan.