9 Die jong manne het gegaan en namens Dawid alles presies net so vir Nabal gesê en vir sy antwoord gewag.
10 Nabal sê toe vir Dawid se mense: “Wie is dié Dawid? En wie is dié seun van Isai miskien? Vaderland, daar is deesdae ook so baie slawe wat van hulle base af wegloop!
11 Dink julle nou regtig ek sal my brood en water en die skape wat ek vir my skeerders geslag het, vat en dit vir mense gee wat ek van g’n kant af ken nie?”
12 Die manne van Dawid het net daar omgedraai en teruggegaan. Toe hulle by Dawid kom, het hulle hom alles vertel.
13 “Kry julle swaarde, manne,” het Dawid gesê. Elkeen het sy swaard in sy lyfband gesteek; Dawid ook. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om die goed op te pas.
14 Een van die jong skaapwagters het vir Nabal se vrou, Abigajil, gaan vertel wat gebeur het: “Dawid het uit die woestyn manne gestuur om vir Meneer voorspoed toe te wens, maar hy het hulle afgejak.
15 En dié mense was baie goed vir ons: toe ons in die oop veld was, het niemand ons ooit lastig geval as ons naby hulle was nie. Daar is ook nooit ’n skaap gesteel nie.