10 So waar as die Here leef, die Here self sal Saul laat doodgaan: wanneer sy tyd kom, sal hy ’n natuurlike dood sterf, of hy sal in ’n geveg omkom.
11 Die Here bewaar my daarvan dat ek my hand teen sy gesalfde oplig. Kom ons vat liewer sy spies daar by sy kop en sy waterkruik, dan maak ons dat ons wegkom.”
12 Dawid het die spies en die waterkruik wat by Saul se kop was, gevat en toe het hulle twee padgegee. Niemand het hulle gesien of eers geweet dat hulle daar was nie. Die manskappe was vas aan die slaap; nie een het wakker geword nie, want die Here het elkeen van hulle soos ’n klip laat slaap.
13 Dawid het deur die valleitjie gegaan en aan die ander kant op ’n veilige afstand op ’n hoë rots gaan staan.
14 Toe roep hy na die manskappe en na Abner, Ner se seun: “Abner! Antwoord jy dan nie ’n mens nie?”Abner skree toe terug: “Wie’s jy wat so vir die koning staan en skree?”
15 Dawid antwoord hom: “Jy’s mos die beste man in die hele Israel? Hoekom het jy dan nie jou leier, die koning, opgepas nie? Daar het ’n manskap in die kamp ingekom om jou leier, die koning, dood te maak!
16 Jy maak nie mooi nie, Abner! Julle almal verdien die dood oor julle nie julle leier, die Here se gesalfde, oppas nie! Kyk ’n bietjie waar is die spies van die koning en sy waterkruik wat by sy kop was!”