1 Toe die Filistyne in dié tyd hulle manskappe reggekry het om teen Israel oorlog te maak, het Akis vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my sal moet gaan oorlog maak.”
2 “Maar natuurlik,” het Dawid geantwoord. “U Majesteit sal self sien wat ek kan doen.”“Goed so,” het Akis gesê. “Dan is jy, so lank as wat die oorlog aanhou, my persoonlike lyfwag.”
3 Samuel was dood en die mense het klaar oor hom getreur en hom in sy tuisdorp, Rama, begrawe. Intussen het Saul al die mense wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land verban.
4 Die Filistyne het bymekaargekom en by Sunem kamp opgeslaan. Saul het al die Israeliete op die Gilboaberg laat saamtrek.
5 Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy baie benoud geraak.
6 Hy het vir die Here gevra wat hy moet doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie. Hy kon nie deur drome of deur die heilige klippies of by profete ’n antwoord van die Here kry nie.