7 Hy sê toe vir sy amptenare: “Soek vir my ’n vrou wat geeste kan oproep. Ek wil na haar toe gaan en vir haar raad vra.”Sy amptenare sê toe vir hom: “Daar is ’n vrou in Endor wat geeste oproep.”
8 Saul het homself vermom en gewone klere aangetrek. Hy en twee van sy werkers het in die nag na die vrou toe gegaan. Daar aangekom, sê hy vir haar: “Jy moet asseblief vir my iemand se gees oproep. Ek sal vir jou sê wie s’n.”
9 Die vrou sê vir hom: “Maar jy weet mos wat Saul gedoen het: hy het dié wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land uitgeroei. Wil jy my laat doodmaak deur my in ’n lokval te lei?”
10 Saul het vir haar voor die Here gesweer en gesê: “So waar as die Here leef, jy sal niks oorkom nie.”
11 Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou oproep?”Hy antwoord: “Roep Samuel vir my op.”
12 Toe die vrou Samuel sien, het sy hard gegil. Sy het vir Saul gesê: “Hoekom het u my om die bos gelei? U is Saul!”
13 “Moenie bang wees nie,” sê koning Saul vir haar, “sê vir my wat jy sien.”Die vrou antwoord hom: “Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom!”