5 Dis mos hierdie einste Dawid oor wie die vroue sing as hulle in die rondte dans: ‘Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.’”
6 Akis het Dawid laat roep en vir hom gesê: “So waar as die Here leef, jy is betroubaar en ek dink dis goed dat jy op al ons veldtogte saam met my is, want vandat jy by my gekom het tot nou, het jy, wat my betref, nog niks verkeerds gedoen nie. Maar die regeerders van die Filistynse stadstate vertrou jou nie.
7 Gaan nou maar terug en wees rustig en moenie iets doen waarvan hulle nie hou nie.”
8 Dawid het vir Akis gesê: “Maar wat het ek verkeerd gedoen? Kan u u vinger op enigiets lê wat ek gedoen het, vandat ek by u gekom het tot vandag toe, wat ’n rede kan wees waarom ek nie teen U Majesteit se vyande mag gaan veg nie?”
9 Akis het hom geantwoord: “Ek weet, ek weet! Vir my was jy soos ’n engel uit die hemel! Maar die Filistynse regeerders het gesê jy mag nie saam met ons oorlog toe gaan nie.
10 Maak nou môre vroeg klaar, jy en al Saul se onderdane wat saam met jou gekom het, en dan vertrek julle sodra dit lig word.”
11 Dawid en sy manne het toe vroeg opgestaan en na die gebied van die Filistyne teruggegaan. Die Filistyne het daarna teen die Israeliete in Jisreël gaan veg.