1 Die seuntjie Samuel het onder Eli se toesig in die tempel gehelp. Die woord van die Here was skaars in dié tyd. Die Here het met niemand gepraat nie.
2 Op ’n keer het Eli op sy gewone plek gelê. Sy oë het so sleg geword dat hy nie meer kon sien nie.
3 Samuel het in die heilige deel van die tempel van die Here geslaap waar die verbondsark van God gestaan het. Voor dit die môre lig word en die lamp in die tempel doodgeblaas word,
4 het die Here Samuel geroep. “Ja, ek kom,” het hy geantwoord
5 en gou na Eli toe gegaan. “U het my geroep. Het u my nodig?” het hy gevra. “Nee, ek het jou nie geroep nie,” het Eli geantwoord. “Gaan lê maar weer.” Hy het toe weer gaan lê.
6 Die Here het weer geroep: “Samuel!” Samuel het opgestaan en na Eli toe gegaan en vir hom gesê: “U het my geroep. Het u my nodig?” Eli het weer geantwoord: “Nee, ek het jou nie geroep nie, my kind. Gaan lê maar weer.”
7 Samuel het toe nog nie die Here geken nie, want die Here het nog nie met hom gepraat nie.