3 Toe Dawid en sy manne in die afgebrande dorp kom en besef dat hulle vroue en seuns en dogters ontvoer is,
4 het hulle in trane uitgebars en hardop gehuil. Hulle was ontroosbaar.
5 Dawid se twee vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel, is natuurlik ook ontvoer.
6 Dawid was lelik in die nood: die manne was só verbitter oor hulle kinders dat hulle gedreig het om hom met klippe dood te gooi. Maar hy het krag gekry by die Here sy God.
7 Hy het vir priester Abjatar, Agimelek se seun, gesê: “Bring vir my die priestersak.”Abjatar het die priestersak vir Dawid gebring,
8 en toe vra hy vir die Here: “Moet ek agter hierdie klomp rowers aangaan en sal ek hulle kan inhaal?”Die antwoord was: “Ja, sit hulle agterna. Jy sal hulle vir seker inhaal en jou mense red.”
9 Dawid en sy 600 man is toe agter die rowers aan. Toe hulle by die Besorspruit kom, het party manne halt geroep.