8 en toe vra hy vir die Here: “Moet ek agter hierdie klomp rowers aangaan en sal ek hulle kan inhaal?”Die antwoord was: “Ja, sit hulle agterna. Jy sal hulle vir seker inhaal en jou mense red.”
9 Dawid en sy 600 man is toe agter die rowers aan. Toe hulle by die Besorspruit kom, het party manne halt geroep.
10 Twee honderd van die manne was eenvoudig te swak om deur die loop te gaan. Dawid is toe met 400 man verder.
11 Die manne het ’n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het vir hom brood en water gegee. Toe hy dit klaar geëet en gedrink het,
12 gee hulle hom ook nog ’n hand vol gedroogde vye en twee rosyntjiekoeke. Nadat hy dít geëet het, het hy begin regkom, want hy het vir drie dae en nagte nie nat of droog oor sy lippe gehad nie.
13 Dawid vra toe vir hom: “Van wie se mense is jy en waar kom jy vandaan?”Die jong man antwoord hom: “Ek is ’n Egiptenaar. Ek is ’n slaaf van een van die Amalekiete. Omdat ek siek geword het, het my baas my drie dae gelede hier gelos.
14 Ons was op ’n strooptog in die Negev waar die Filistyne en Judeërs en die Kalebfamilie bly. Ons het Siklag afgebrand.”