6 So is Saul, sy drie seuns, sy wapendraer en al sy manskappe op dieselfde dag saam dood.
7 Die Israeliete wat in die Jisreëlvlakte en in die Jordaanvallei gebly het, het gesien die manskappe van Israel vlug en hulle het agtergekom dat Saul en sy seuns dood is. Daarom het hulle uit hulle dorpe gevlug. Die Filistyne het later daar gaan woon.
8 Die dag na die geveg het die Filistyne die klere en wapens wat aan die lyke was, gaan afhaal. Hulle kry toe vir Saul en sy drie seuns waar hulle dood lê op Gilboaberg.
9 Hulle het sy kop afgekap en sy oorlogsklere en wapens gevat. Hulle het mense deur hulle hele land rondgestuur om in hulle afgodstempels en vir al die mense die goeie nuus te vertel.
10 Hulle het sy oorlogsklere en wapens in die tempel van die Astartegodin neergesit en sy lyk aan die muur van Bet-San opgehang.
11 Die mense van Jabes in Gilead het gehoor wat die Filistyne met Saul gedoen het.
12 Al die manne van Jabes wat kon veg, het bymekaargekom en dwarsdeur die nag geloop om die lyke van Saul en sy seuns van Bet-San se muur af te haal. Hulle het die lyke na Jabes toe gevat en dit daar aan die brand gesteek.