1 Die ark van die Here was sewe maande in die Filistyne se gebied,
2 toe laat die Filistyne hulle priesters en waarsêers kom en vra vir hulle: “Wat moet ons doen met die ark van die Here? Sê vir ons waarmee ons hom moet terugstuur na sy plek toe.”
3 Die waarsêers antwoord hulle: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit net nie sonder ’n geskenk terugstuur nie. Julle móét die God van Israel iets gee vir die skade; dan kan julle dalk gesond word en agterkom waarom Hy julle so swaar laat kry.”
4 Hulle vra toe: “Waarmee moet ons vir die skade betaal?” Die waarsêers antwoord: “Met vyf goue swere en vyf goue rotte, want daar is vyf Filistynse regeerders, en dieselfde plaag het julle en julle vyf regeerders getref.
5 Maak beeldjies van die swere en van die rotte wat julle land verniel, en erken só dat die God van Israel ’n magtige God is. Miskien sal Hy julle en julle gode en julle land dan nie meer laat swaarkry nie.
6 Moenie hardkoppig wees soos die Egiptenaars en die farao nie. God het hulle in die woestyn laat swaarkry, toe móés hulle die Israeliete laat trek.
7 Kry ’n nuwe wa reg en twee koeie wat in melk is, maar wat nog nooit ingespan is nie. Span die koeie voor die wa, maar keer die kalwers af stal toe.