10 Hulle het toe so gemaak. Hulle span twee koeie wat in melk is, voor die wa en hou die kalwers op stal.
11 Hulle sit die ark van die Here op die wa en ook die sak met die goue rotte en die beeldjies van die swelsels.
12 Die koeie het reguit na Bet-Semes toe geloop. Hulle het geloop en bulk, maar al die tyd padlangs gehou sonder om links of regs af te draai. Die regeerders van die stadstate het agter die wa aangeloop tot by die grens van Bet-Semes.
13 Die mense van Bet-Semes was in die vallei besig om koring te oes. Toe hulle opkyk en die ark op die wa sien, was hulle bly.
14 Die koeie het met die wa gaan staan by die land van Josua van Bet-Semes. Daar was ’n klipplaat. Hulle kap toe die wa stukkend en offer die twee koeie daar vir die Here.
15 Die Leviete het die ark en die sak met die goue beeldjies van die wa afgetel en dit op die klipplaat neergesit. Daardie dag het die mense van Bet-Semes vir die Here offerdiere geslag en verbrand.
16 Die vyf Filistynse regeerders het dit alles gesien. Hulle is dieselfde dag terug Ekron toe.