5 Maak beeldjies van die swere en van die rotte wat julle land verniel, en erken só dat die God van Israel ’n magtige God is. Miskien sal Hy julle en julle gode en julle land dan nie meer laat swaarkry nie.
6 Moenie hardkoppig wees soos die Egiptenaars en die farao nie. God het hulle in die woestyn laat swaarkry, toe móés hulle die Israeliete laat trek.
7 Kry ’n nuwe wa reg en twee koeie wat in melk is, maar wat nog nooit ingespan is nie. Span die koeie voor die wa, maar keer die kalwers af stal toe.
8 Vat die ark en sit dit op die wa. Sit dan die goue beeldjies waarmee julle die God van Israel betaal vir die skade, in ’n sak langs die kis. Los dan die wa
9 en kyk waarheen die koeie loop. As hulle na die plek toe gaan waar die ark vandaan kom, na Bet-Semes se kant toe, dan weet ons dit is die God van Israel wat hierdie groot moeilikheid oor ons gebring het. As hulle nie daarheen loop nie, dan weet ons dat dit nie Hy was wat ons so hard geslaan het nie, maar dat dit bloot toevallig met ons gebeur het.”
10 Hulle het toe so gemaak. Hulle span twee koeie wat in melk is, voor die wa en hou die kalwers op stal.
11 Hulle sit die ark van die Here op die wa en ook die sak met die goue rotte en die beeldjies van die swelsels.