1 In die Benjaminstreek was daar ’n man met die naam Kis. Sy pa, Abiël, en dié se voorouers, Seror, Bekorat en Afiag, het aan die Benjaminstam behoort. Kis was ’n ryk man.
2 Hy het ’n seun gehad met die naam Saul. Saul was ’n puik jong man. Daar was niemand soos hy onder al die Israeliete nie. Hy was ’n hele kop langer as die ander Israeliete.
3 Toe Kis se donkiemerries op ’n keer wegraak, sê hy vir Saul: “Vat een van die werkers en gaan soek die donkies.”
4 Saul en die werker het oral gesoek: in die bergland van Efraim en in die omgewing van Salisa, Saälim en Jemina. Hulle kon die donkies nêrens kry nie.
5 Toe hulle tot in die omgewing van Suf gesoek het, sê Saul vir die werker wat by hom is: “Kom ons gaan maar terug huis toe, anders is my pa naderhand meer bekommerd oor ons as oor die donkies.”
6 Maar die werker sê vir hom: “Weet u, ek hoor in hierdie dorp is daar ’n Godsman. Die mense het respek vir hom, want al sy woorde word waar. Kom ons gaan soontoe, miskien kan hy vir ons sê waar om te soek.”
7 Saul sê vir die werker: “Ja, ons kan gaan, maar waarmee betaal ons die man? Die brood in ons sakke is gedaan. Ons het nie ’n geskenk by ons om vir die Godsman te gee nie. Wat anders het ons?”