8 “Ek het hier nog ’n stukkie silwer,” antwoord die werker. “Ek sal dít vir die Godsman gee, dan kan hy vir ons sê waar om te soek.”
9 (Vroeër het ’n mens in Israel, wanneer jy by God raad wou vra, gesê: “Kom ons gaan na die siener toe,” want vroeër is profete sieners genoem.)
10 “Dis reg so,” sê Saul, “kom ons gaan.” So gaan hulle toe na die dorp toe waar die Godsman was.
11 Terwyl hulle teen die bult opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat gaan water skep. Hulle vra hulle toe: “Is die siener hier?”
12 “Ja,” antwoord die meisies. “Hy is net voor julle. Maar julle moet gou maak; hy het net vandag na ons dorp toe gekom, want die mense offer vandag by die offerplek.
13 Nes julle die dorp ingaan, sal julle hom kry voor hy na die offerplek toe opgaan om saam met die mense die offervleis te eet. Die mense eet nie voor hy kom nie, want hy moet die offer seën. Eers dan eet die gaste. As julle nou dadelik gaan, sal julle hom kry.”
14 Hulle gaan toe na die dorp toe, en net toe hulle op die dorpsplein kom, loop hulle vir Samuel, wat op pad is na die offerplek toe, raak.